Willy Brandt

Willy Brandt
Willy Brandt
Willy Brandt in 1980

Bondskanselier van Duitsland
Ampstermyn
22 Oktober 1969 – 7 Mei 1974
Vise Walter Scheel
President Gustav Heinemann
Voorafgegaan deur Kurt Georg Kiesinger
Opgevolg deur Helmut Schmidt

Leier van die Sosiaaldemokratiese Party
Ampstermyn
16 Februarie 1964 – 14 Junie 1987
Voorafgegaan deur Erich Ollenhauer
Opgevolg deur Hans-Jochen Vogel

Adjunkpremier van Duitsland
Ampstermyn
1 Desember 1966 – 20 Oktober 1969
Eerste minister Kurt Georg Kiesinger
Voorafgegaan deur Hans-Christoph Seebohm
Opgevolg deur Walter Scheel

Minister van Buitelandse Sake
Ampstermyn
1 Desember 1966 – 20 Oktober 1969
Eerste minister Kurt Georg Kiesinger
Voorafgegaan deur Gerhard Schröder
Opgevolg deur Walter Scheel

Burgemeester van Wes-Berlyn
Ampstermyn
3 Oktober 1957 – 1 Desember 1966
Voorafgegaan deur Otto Suhr
Opgevolg deur Heinrich Albertz

President van die Bundesrat
Ampstermyn
1 November 1957 – 31 Oktober 1958
Voorafgegaan deur Kurt Sieveking
Opgevolg deur Wilhelm Kaisen

President van die Berlynse Huis van Verteenwoordigers
Ampstermyn
11 Januarie 1955 – 2 Oktober 1957
Voorafgegaan deur Otto Suhr
Opgevolg deur Kurt Landsberg

Persoonlike besonderhede
Gebore Herbert Ernst Karl Frahm
(1913-12-18)18 Desember 1913
Lübeck, Duitse Keiserryk
Sterf 8 Oktober 1992 (op 78)
Unkel, Duitsland
Politieke party Sosiaaldemokratiese Party (1930–1931, 1948–1992)
Sosialistiese Werkersparty van Duitsland (1931–1946)
Eggenoot/-note Carlotta Thorkildsen (1941–1948)
Rut Hansen (1948–1980)
Brigitte Seebacher (1983–1992)
Kind(ers) 4, insluitende Matthias
Alma mater Universiteit van Hamburg
Religie Lutheranisme
Handtekening

Willy Brandt (Duits: [ˈvɪliː ˈbʁant]; gebore as Herbert Ernst Karl Frahm; 18 Desember 19138 Oktober 1992) was 'n Duitse staatsman van Europese en wêreldformaat. As regeringsleier van 'n sosiaal-liberale koalisieregering, wat deur die Sosiaal-Demokratiese (SPD) en Vrye Demokratiese Party (FDP) gevorm is, het Brandt tussen 1969 en 1974 as vierde bondskanselier van die destydse Federale Republiek van Duitsland (Wes-Duitsland) gedien. Hy was die eerste sosiaal-demokratiese politikus sedert 1930 wat die pos van Duitse regeringsleier beklee het.

Voor sy verkiesing tot kanselier in 1969 het hy vanaf 1966 in die eerste Groot Koalisieregering tussen Sosiaal- en Christen-Demokrate, wat onder kanselier Kurt Georg Kiesinger (CDU) gevorm is, die ampte van Minister van Buitelandse Sake en Vise-kanselier beklee. Sy politieke loopbaan op federale regeringsvlak is voorafgegaan deur die amp van Regerende Burgemeester van Wes-Berlyn (vanaf 1957) in een van die moeilikste periodes van die stad se geskiedenis. Die Berlynse Muur is tydens sy ampstermyn opgerig. Op internasionale vlak het hy vir twee ampstermyne, tussen 1964 en 1967, en nog eens tussen 1976 en 1992, die amp van president van die Sosialistiese Internasionaal beklee.

Willy Brandt se historiese betekenis vir die na-oorlogse Duitse politiek en geskiedenis staan gelyk aan dié van Konrad Adenauer en Helmut Kohl. Terwyl Adenauer Duitse versoening met Wes-Europese lande bewerkstellig en die land vas veranker het in die ekonomiese en politieke integrasie van Wes-Europa en die trans-atlantiese militêre alliansie met die Verenigde State, het Brandt as politieke visioenêr brûe geslaan tussen Duitsland en Oos-Europa. Die ooreenkomste wat hy met Pole en die Sowjetunie gesluit het, het van Wes-Duitsland vir die eerste keer sedert 1949 'n erkende onderhandelaar vir beide die Weste en Ooste gemaak en die deur geopen vir die toetrede van beide Duitse state, die Federale Republiek van Duitsland en die Duitse Demokratiese Republiek (DDR), tot die Verenigde Nasies in September 1973.[1]

Brandt se nuwe optrede teenoor Oosbloklande, insluitende die DDR, was 'n radikale ommeswaai in die buitelandse beleid van Wes-Duitsland. Onder sy voorgangers het die land aanspraak daarop gemaak dat dit die enigste verteenwoordiger van Duitsland sou wees. Hierdie beleid, wat in die sogenaamde Hallstein-doktrine geformuleer is, is vanaf 1955 toegepas en was daarop gemik om die Duitse Demokratiese Republiek internasionaal te isoleer. Die aanknoop van diplomatieke betrekkinge met die DDR is as "onvriendelike optrede" teenoor die Federale Republiek beskou en het ekonomiese sanksies of die verbreking van diplomatieke betrekkinge tot gevolg gehad. So het die meeste Westerse lande eers vanaf 1973 amptelike diplomatieke betrekkinge met Oos-Berlyn begin aanknoop.

Vir sy beleid van versigtige toenadering en versoening teenoor Oos-Europese lande (die destydse Oosblok), waarna as Neue Ostpolitik verwys is, het hy in 1971 die Nobelprys vir Vrede ontvang. 'n Tweede belangrike steunpilaar van sy buitelandse beleid was die voortgesette politieke en ekonomiese integrasie van die destydse Wes-Duitsland in die Europese Ekonomiese Gemeenskap (EEG) en die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO), soos begin deur sy voorgangers.

Hy vlug na Noorweë en dan Swede gedurende die Nazi-regime en werk as 'n linkervleueljoernalis. Hy het ook die naam Willy Brandt as skuilnaam gebruik om opsporing deur die Nazi-agente te vermy. Hy het die naam formeel aangeneem in 1948.

Brandt is oorspronklik beskou as een van die leiers van die regtervleuel van die SPD. Brandt was omstrede op beide die regtervleuel, vir sy Ostpolitik, en op die linkervleuel, vir sy ondersteuning van die Amerikaanse beleid, insluitend die Viëtnamoorlog, en regse outoritêre regimes. Die Brandt-verslag het 'n erkende maatstaf vir die beskrywing van die algemene Noord-Suid-verdeling in die wêreldekonomie en die politiek tussen 'n welvarende Noorde en 'n arm Suide geword. Brandt was ook bekend vir sy streng anti-kommunistiese beleid op plaaslike vlak wat sy hoogtepunt in 1972 in die sogenaamde Radikalenerlass gevind het – 'n verordening waarvolgens lede en aanhangers van ekstremistiese partye van alle poste in die staatsdiens uitgesluit is.

Brandt bedank as kanselier op 6 Mei 1974, nadat Günter Guillaume, een van sy naaste medewerkers, ontbloot is as 'n agent van die Staatssicherheit, die Oos-Duitse geheime diens. Hy behou sy amp as SPD-partyvoorsitter.[2]

  1. Peter Merseburger: Willy Brandt 1913–1992. Visionär und Realist. München: Deutsche Verlags-Anstalt 2016, bl. 8
  2. "Bundeszentrale für politische Bildung (bpb): 60x Deutschland – Das Jahr 1974. Besoek op 26 Junie 2018". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Junie 2018. Besoek op 26 Junie 2018.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search